Wie was 'Ryneveld' van Ryneveldstraat in Stellenbosch?

by 'nDromer | Local News

Baie van Stellenbosch se eerste straatname is vernoem na landdroste en ander leiersfigure, soos Andringa, Ryneveld en Hofmeyer.

Maar nie almal van hulle was ou mans met baarde nie.

Daantjie van Ryneveld was net 27 jaar oud toe hy landdros geword het.

Ryneveldstraat was ‘n belangrike straat in die dorp, omdat dit drie belangrike geboue gehuisves het, die Drostdy, die tronk en die kerk – in daardie dae die simbole vir Gesag, Geloof en Gereg.

Vandag staan twee van die oudste geboue in Stellenbosch, Schreuderhuis en Morkelhuis, nog in hierdie straat.

 


Die Twee Van Rynevelds

Daar was twee landdroste in Stellenbosch se vroeë geskiedenis met die naam Van Ryneveld:

  • Daniel van Ryneveld (landdros in 1783) 
  • Daniel Johannes van Ryneveld (1814)

Die twee was oupa en kleinseun.  


Die Oupa  (gebore 29 Aug 1739)

Oupa Daniel van Ryneveld was oorspronklik ‘n matroos uit Amsterdam, maar het homself in die Kaap gevestig as assistent en boekhouer van ‘n politieke raad. Mettertyd is hy as landdros van Swellendam aangestel, en uiteindelik na Stellenbosch verplaas as landdros.  


Daantjie van Ryneveld (gebore 1783)

Die kleinkind (Daniel Johannes van Ryneveld) was, soos sy pa en oupa, ook ‘n regsgeleerde. Daantjie het die landdros van Stellenbosch geword toe hy net 27 jaar oud was.

Hy was ‘n groot gees in Stellenbosch en het verskeie titels gehad, sommige van hulle effe omstrede: landdros, siviele kommissaris, magistraat, kolonel-kommandant, Kaapse wyn ondersteuner en beskermer van die kunste (spesifiek toneel).

Toe daar ‘n amateur toneelgeselskap op Stellenbosch ontstaan het, het Daantjie van Ryneveld sy volle steun hiervoor gegee, 'n kontroversiële besluit omdat toneelspel teenstand van sommige kerklike organisasies gekry het.

Die ‘Stellenbossche Toneelgezelschap het onder die ‘patronage van de Wel-Edelagbare Heer Daniel Johannes van Ryneveld’ gegroei en floreer, totdat dit 1838 doodgeloop het.

Daantjie van Ryneveld was ook lief vir ‘n militêre skouspel.

Op 60 jaar oud stig hy ‘n Vrywillige skuttersvereniging (die Stellenbosch Volunteers) waarvan hyself die kolonel-kommandant was.

Die wapenkorps het sosiale wapenskoue en optogte gehou, waarskynlik op die braak, en die musiekkorps, d.w.s. ‘n marching band, het gesorg dat almal vermaak word. 


Vernoem na sy oupa (of dalk na homself?)

Dis moontlik dat Daantjie besluit het om Ryneveldstraat na sy oupa te vernoem, of altans na sy familie.

Terwyl hy landdros was (in 1818) het hy en sy Heemrade dit goedgedink om Stellenbosch se straatname vir die eerste keer publiek te maak.

Hulle het 'n jong landmeter met die naam Willem Hertzog ingeroep (toe net 21 jaar oud) en tenders gevra vir iemand wat naamborde kan maak vir die strate.

Een van die landmeter se take was om die twee strate wat loodreg met Dorpstraat loop (Andringa en Ryneveld) te verleng sodat die area ontwikkel kon word.

Later het nog drie strate bygekom, Victoriastraat, Crozierstraat en Merrimanstraat.

 


Een van die eerste 4 strate

Ryneveldstraat was een van die eerste 4 offisiële strate in die dorp, maar nie onder hierdie naam nie. Die eerste vier was Groote Kerkstraat (vandag Ryneveldstraat), Kleine Kerkstraat, Andringastraat en Pleinstraat.

  


Om te lees waar nog van Stellenbosch se straatname vandaan kom, lees ons blog oor Hendrik Berghlaan en ander hier.

 

landdroste

 

#leef Stellenbosch

 


‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die alledaagse dinge wat mens miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.


Artikel: Y Coetsee 2016
Bronne: Stellenbosch Drie Eeue 1979
History of South Africa Since September 1795, George McCall Theal 2010 Available
https://www.geni.com/people/Daniel-van-Ryneveld
http://archiver.rootsweb.ancestry.com