Wie was Bosman van 'Bosman’s crossing'?

by 'nDromer | Local News

Verlede week het ek gekyk na waar die name Murray-, Neethling- en Hofmeyerstraat vandaan kom.

Vandag kom Bosman's crossing aan die beurt, 'n area aan die westekant van Stellenbosch.

Die presiese oorsprong van die naam Bosman’s crossing is onseker, maar sommige meen dis vernoem na 'n sekere meneer Daniel Bosman wat 'n brandewyndistilleerder langs die rivier gehad het. Ander glo Bosman was die eienaar van ’n nabygeleë plaas.

img_3001
Bosman's siding treinstop, waarskynlik laat 1800s (Foto: Stellenbosch Drie Eeue boek)

Fabrieke en distilleering

Die area rondom die plankenbrugrivier en Papegaaiberg was van die begin af redelik industrieel van aard.

In die 1700's is ’n quarry gebou om klei uit papegaaiberg te ontgin vir bakstene.

Distilleerders soos Collison's en Santhagen’s het rondom 1875 in die area ontstaan.

In die vroeg 1900's is ’n deel van die Bosman's crossing area opgekoop deur die KWV om as hul Stellenbosch hoofkwartiere te dien (1918 tot 1995).


Die spoorweë

Toe die spoorweg vir die eerste keer na Stellenbosch kom in 1862, wou die owerhede aanvanklik die hoofstasie by Bosman’s crossing bou.

Op die oud end is dit by Du Toit’s stasie gebou, met net 'n kleiner treinhalte by Bosman's crossing, soos op die foto bo.

In omtrent dieselfde tyd wat die spoorweg na Stellenbosch gekom het, is ’n hardepad vanaf Stellenbosch na Kaapstad voltooi. Dit was ’n groot deurbraak omdat die groot, sanderige area tussen die twee dorpe (daardie tyd al bekend as die kaapse vlakte) moeilik begaanbaar was vir ossewaens en perdekarre.

Die spoorweg en hardepad het die verbintenis met Kaapstad, en daarmee die kontak met die buitewereld, vergemaklik, en het ’n tyd van baie ontwikkeling in Stellenbosch voorspel.


Geologiese skatte

’n Interessant storie rondom Bosman’s crossing is dat daar in 1911 belangrike geologiese opgrawings gemaak is deur L. Peringuy, 'n destydse hoof van die staatsmuseum in Kaapstad.

Onder die kleilaag is 'n reeks antieke handgereedskap van primitiewe mense gevind. Hul oorsprong word geskat op 300 000 jaar v.C. Die artefakte is tans in die Museum de Toulouse in Frankryk.

Die woorde 'Bosman's Crossing' en 'L. Peringuy' is op die klip geskryf.


Artikel: Y Coetsee 2017
Bronne: Stellenbosch Drie Eeue
wikimedia commons: https://commons.wikimedia.org/wiki/Category:Biface_from_Bosman%27s_Crossing,_South_Africa_-_MHNT_PRE.2009.0.195.1
https://www.portfoliocollection.com/travel-blog/how-bosman-s-crossing-got-its-name