Olienhoutstraat - Stellenbosch se inheemse woude

by 'nDromer | Local News

Inheemse bome word gewoonlik met die Knysna omgewing assosieer, maar daar was ook heelwat geelhout en ander bome in Stellenbosch. Vandag sien ons voorbeelde hiervan in die bergklowe van Jonkershoek - veral in Swartboskloof en Langrivierkloof - waar daar nog groepe inheemse bome groei. Gelukkig was Assegaaibos en die Jonkershoekvallei redelik ontoeganklik vir die setlaars – dit was beskou as die punt waar die ‘landelike omgewing’ in die ‘wildernis’ verander.

img_1029

In die 17de eeu was Jonkershoek ‘n dig bewoude vallei, skryf Harris en Pistorius:

“... we imagine a densely planted valley bottom, virtually a forest of large trees like Yellowwood, spreading along the watermeadows and the shifting course of the Eerste Rivier, mixed with a rampant growth of lesser trees and shrubs that also reached up the tributary streams.”

Behalwe vir die mees bekende inheemse bome (soos die hardepeer, assegaaihout, geelhout, rooi-els, wit-els, wilde-amadel, olienhout , notsung, keurboom en boekenhout), is daar meer as 1100 ander boomsoorte in ons area.

Baie van die oorspronklike woude is deur veldbrande verniel en die koms van permanente settlaars het uiteraard sy tol geëeis op die omgewing. Daar word spekuleer dat die nomadiese boere, die khoi, dele van die veld hier skoon gemaak het om weiding vir hul diere te voorsien. Op plekke is die digte fynbos weggebrand sodat jong, sagter plante kon opkom vir die diere. Pistorius en Harris reken dat die bospaadjies en en weivelde wat deur die Khoi geskep is, jare later gesien is as goeie plekke vir die vroeë setlaars om te bou.

Die Hollandse settlaars was tot ‘n groter mate afhanklik van hout. Hul het enigiets gebruik vir huishoudelike doeleindes: Lepelhout is gebruik vir kombuisgereedskap (daarvandaan die naam) en die sterk hout van die olien gebruik vir bylstele en om egtande van te maak. Geelhout was ‘n gesogte hout vir meubels, deure, vloere en plafonne, en mens kan pragtige voorbeelde daarvan sien in die dorpsmuseum. Vir die maak van leerprodukte is die bas van bome gebruik om die velle te looi.

Die Hollanders het ook hout gebruik om waens en karre van die maak - assegaaihout is vir die wielspeke gebruik, rooi-els, boekenhout of wildesering vir die vellings en waboom vir die remskoene.

Die uitkap van inheemse woude het ‘n groot bedreiging ingehou vir die jong nedersetting. Toe H.A. Van Reede, die destydse hoëkomissaris van  Drakenstein, besoek aflê op Stellenbosch was hy baie bekommerd oor die volhoubaarheid en beskikbaarheid van hout - dit was slegs 6 jaar na die dorpie se stigting. Bewaring is streng begin toepas en oewerinwoners is verbied om bome buite hul erfgrense af te kap. Dit het vroeg noodsaaklik geword om alle uitgekapte bome te vervang met jong eikebome of ander houtgewasse.

Van Reede het aanbeveel dat daar op elke akker “soowel inlands als vaderlands houwt” gekweek moet word. Uitheemse bome, of 'vaderlandshout’ is waarskynlik as ‘n skadelose, fuksionele (en waarskynlik sentimentele) hulpbron gesien. Beide Simon en Willem Adriaan Van der Stel was “geesdriftige tuinbouers” en het die aanplant van veral eikebome aangemoedig.

In 1712 is daar besluit om jong eikeboompies uit Rondebosch te laat kom om as ‘sieraad’ vir Stellenbosch se strate te dien. Geen van die oorspronklike Eikebome bestaan meer nie, maar van die oudstes dateer uit 1760. Die Eikebome in beide Dorpstraat en Die Laan is tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Uitheemse bome het al meer algemeen begin raak. Omdat hout so skaars geraak het en meer ruimte nodig was vir graangewasse (in die 1840’s) het heelwat settlaars groener weivelde gaan soek in die Overberg en Swartland areas. In hierdie tyd is heelwat eikebome en bloekombome in Stellenbosch geplant, en het dit algemeen geraak om bome soos denne, hakea, populiere, akasia en wilgerboom in die dorp te sien. Die instelling van bosbou in die middel van die 1900's het die Jonkershoekvallei meer toeganklik gemaak, maar het ook die landskap heelwat verander. ‘n Strook bosbougrond, meestal denne, verskyn nou tussen die landbougrond (meestal wingerd) en die reservaat.

In die dorp is daar klein groepe inheemse bome (soos die geelhoutbome op die hoek van Mancadan en Rowan straat)- as jy een sien gaan neem 'n foto en deel dit op www.ispotnature.org.

 

Artikel: Y Coetsee 2016
Bronne: Harris & Pistorius survey Jonkershoek
Stellenbosch Drie Eeue (1979)
Lys van Stellenbosch se gedenkwaardighede (wikipedia)
Eikebome in gevaar (Stellenbosch erfenisstigting)
'n Miljoen bome vir Stellenbosch?