Mev Anna Basson raak 80

by 'nDromer | Local News

Ouma Anna Basson se 80ste verjaarsdag is werklik iets besonders om te vier!

Op hierdie spesiale ouderdom moet dit wees asof jy na 'n lang dag se stap teen Botmaskop se kruin tot stilstand kom, stadig omdraai en besef hoe ongelooflik die landskap is waardeur jy stap.

In die landskap van Ouma Anna se lewe het sy soveel rolle vertol;

sy was (en is) 'n ma van vyf,

ouma,

yster besigheidsvrou,

vriendin.

In die Stellenbosch legkaart was sy 'n besonderse stuk. Ek ken nog nie vir Ouma Anna lank nie, en mens kan baie oor haar besigheidsvernuf sê.

Maar iets wat my opval van haar is haar 'groot-prentjie' perspektief, dat sy leef met meer as haarself in gedagte, leef asof almal, op gelyke vlak, deel vorm van die wêreld waarin ons leef (of dit in 'n familie, 'n besigheid of in 'n dorp is).

En wanneer jy deur die lewe gaan met die groter prentjie in gedagte en goedgesind is teenoor ander, glo ek, kan jy nie anders as om werklik gelukkig te wees nie.

Die lewe gaan, onverhoeds, verby ons. Die natuur het sy eie gang en onbewus van die mens en sy ambisies, sal die seisoene stadig maar seker aanrol en die winterwind Stellenbosch se strate leegwaai.

Binnekort lê daar sneeu op Matroosberg.

 

As jy weer verjaarsdag hou,

verbeel jou jy kan jou vlerke hoog in die lug op skiet, sodat jou huis en jou kantoor klein dotjies raak in die pragtige landskap waarin ons woon.

Dink aan al die mense wat vir jou iets beteken en met wie jy te doen het.

Daar is soveel mense wat (soms onwetend) iets bydra tot jou lewe - die persoon wat klere uitpak in Woolies sodat jy dit kan dra, die persoon wat by die bank werk, die apteker en die skoonmaker. En die skrywer en kunstenaar wat jou lewe versier en jou inspireer!

Elkeen van daardie mense het 'n storie en 'n perspektief van hul eie.

Ons is dankbaar dat Ouma Anna Basson, 'n besonderse persoon, haar storie in Stellenbosch s'n kom invleg het – mag sy nog lank by ons wees.

Dankie vir alles! 

#leefstellenbosch 

Ouma Anna en haar dogter, Mari, en kleinseun, Herman Carstens.