Die storie van Hertestraat

by 'nDromer | Local News

Een van ons lesers het gewonder oor die Hertzog kaart wat 200 jaar gelede van Stellenbosch geteken is (1817). Daar word gereken dat die naam Hertestraat na die landmeter W.F Hertzog vernoem is, en nie van ‘n wildsbok af kom nie.

Hertzog se bekende kaart van Stellenbosch

Hertzog se 1817 kaart is regtig iets besonders, beide vir die tegniese akkuraatheid en die kunstigheid daarvan .

W.F. Hertzog was net 25 jaar oud toe hy die pragtige kaart geteken het. Hy was ‘n leerling by die Kaap se eerste ‘kunstskool’ (onder die bekende Duitse beeldhouer en houtsneewerker Anton Anreith), en het op die ouderdom van 20 as landmeter op Stellenbosch begin werk.

Dis hier waar hy opdrag gekry het om ‘n dorpskaart te teken. Die klein straatjie 'Hertestraat' word aangedui op Hertzog se kaatr, maar is nog sonder naam. Dit bevat op hierdie stadium nog net een huis. Die straat is later gebruik vir slawekwartiere (Lees meer daaroor op sahistory.org.za). Sover my kennis strek is die oorspronklike dokument in die Kaapse Argief.

Kan jy die braak sien?

  • In die middel van die tekening is die dorpie aangedui, en in die middel daarvan die braak (of Koningsplein). Die plein is versier met ‘n laning van twee rye bome.
  • Die donker kronkels aan die regterkant onder beeld die voet van Stellenboschberg uit, en die Eersterivier loop van regs na links oor die kaart.
  • In die boonste, regterkantste kwart is 'n groterige vlakte aangedui. Voordat hierdie area ontwikkel is is dit gebruik as weiveld vir die dorp se vee. Die pad na “die Bange Hoek” en Paarl word ook bo-aan die bladsy uitgebeeld.
  • Links onder vertak die eersterivier in wat vandag die plankenbrugrivier is. Hierdie omgewing het destyds een van die eerste brûe gehad, ‘n houtbrug wat die naam Plankenbrugrivier geinspireer het (lees volledige blog hier).

 

Nog elemente te sien op die kaart

  • Die erwe (of eerder plotte) aan die Suidekant van die dorp was lang smal eiendomme wat vanaf Dorpstraat tot teen die Eersterivier gestrek het (m.a.w. die Laan het nog nie bestaan nie). Huis Lucy (Dorpstraat 99) was een van hierdie ou huise. Mev Lucy Roux se agterplaas het destyds 'n klein wingerd en heelwat vrugtebome gehad.
  • Die dorpie se koringmeul verskyn net onder die braak (geleë waar Mugg & Bean en die Checkers sentrum vandag is). Die meulgebou bestaan nie meer nie maar daar lê wel 'n ou meulwiel op Wilgenhof se gras(!) Mens kan ook die watersloot (die meulsloot) sien loop vanaf die regterkant van die kaart via Pleinstraat en die Dorpsteeg tot by die meulplein in die dorp.
  • Baie van die ou plaasopstalle wat rondom die dorpskern aangedui word bestaan nog, maar is nou deel van die dorp (dit sluit Vredelust, De Hoop, Libertas Parva, Mostertsdrift, Coetzenburg, en ander in).

 

Geskrewe dele

Die sierskrif in die onderste blokkie lees:

Plan van het Dorp Stellenbosch in het Jaar 1658 aangelegd door Den Gouverneur Willem Adriaan van der Stell. Opgemeten 20 Augustus 1817 door my, W.F. Hertzog Gezw(?) Landmeter.

Kan enigiemand dalk lig werp op die feit dat Willem Adriaan van der Stel se naam hier gebruik word en nie Simon van der Stel nie? Willem Adriaan was Simon van der Stel se seun en het hom opgevolg as goewerneur (1699 tot 1707), waarna hy teruggegstuur is na Holland a.g.v die Adam Tas opstand.

Die twee ovale aan weerskante bevat, links, die sleutel van die kaart, en regs, die name van belangrike persone. Die sleutel (Explicatie) lees: Der Districts , Kerkelijke Gebouwen en Landerijen, als mede de Namen der Straten, Pleinen en Reblique Plaatzen

Aan die regterkant is die lys van name - Naamen der Landdrosten en Secretarissen welke van der Aanleg van dit Dorp, alhier hebben Geresideerd.

Dit begin met Johannes Mulder in 1685 en Sybrand Mancadan in 1687. Mankadan was die dorp se eerste sekretaris, sowel as die voorleser-onderwyser by die skool (hy was nogals ‘n berugte kêrel op die dorp). Die plaas Muldersvlei is vernoem na Johannes Mulder.

  

Artikel Y Coetsee 2017

Beelde en inligting uit Stellenbosch Drie Eeue (1979)