Die storie van die Lutherse Kerkie

by 'nDromer | Local News

Argitek en kunstenaar

Ek dink Carl Otto Hager sou verras wees dat die Ou Lutherse kerkie (op die hoek van Dorpstraat en Birdstraat) vandag as ‘n kunsgalery gebruik word. Carl was self 'n portretskilder en fotograaf. Die kerkie is vanjaar 163 jaar oud en is een van Stellenbosch se mooiste erfenismonumente.

Carl is gebore in Dresden, Duitsland (1813), en was slegs 15 jaar oud toe hy ingeskryf is by die Kunsakademie in Dresden. Sommige bronne sê hy is primêr opgelei as 'n portretskilder en ander as 'n argitek.

Op 25 jaar oud besluit hy en een van sy universiteitsvriende om na die Kaapkolonie te emigreer, waar hulle ‘n aantal jare aan die Kaap woon en werk. Carl verhuis egter later na Stellenbosch, ‘n plek wat hom herinner aan sy ‘vaterland' waar hy rustigheid vir sy gemoed kon vind. Hy was 'n baie gelowige persoon. Die jong kunstenaar trou met die musiekonderwyseres Cornelia Janssen, en maak ‘n (nederige) bestaan as ‘n portretskilder, ‘n kersemaker, ‘n snuifmaker en later ‘n fotograaf. Vir n tyd lank werk hy as 'n rondreisende portretskilder (te perd) en in 1864 open hy 'n fotografiese ateljee op Stellenbosch.

Het jy geweet? Die argitek Carl Otto Hager het byna 24 kerke en geboue in Suid-Afrika ontwerp. Hy het min of meer dieselfde ontwerp as die Lutherse kerkie gebruik in Ladismith, Clanwilliam en Fraserburg (sien fotos onder).

Alhoewel daar enkele van sy portrette behoue gebly het, is Carl Otto Hager se grootse nalatenskap sy argitekswerk. Die Evangelies Lutherse kerkgebou was een van sy eerste kerkprojekte (voltooi in 1854) en is in die Neo-gotiese boustyl gebou (die torinkies op die fasade sowel as die gepunte vensters herinner aan die gotiese styl van die laat-middeleeue). Anders as baie van die klipkerke in Suid-Afrika het die Lutherse kerk witgekalkte mure gehad sowel as ‘n grasdak.

230px-ou_ng_kerk_fraserburg_hager
Fraserburg
ou_ng_kerk_clanwilliam
Clanwilliam
ou_ng_kerk_ladismith
Ladismith

 Die Duitse gemeenskap in Stellenbosch

Die klein Duitse geloofsgemeenskap het vir Carl en sy vrou Cornelia 'n tuiste gebied, en die bou van die kerk was op 'n manier 'n simbool daarvan. Op daardie stadium was daar reeds vir ‘n paar jaar ‘n Lutherse kerk in die Kaap. Heelwat van die vryburgers was van Duitse afkoms en alhoewel baie van hulle Hollands leer praat het, het hulle die behoefte gehad aan hul eie bymekaarkomplek. In Kaapstad het die boer en entrepreneur Martin Melck, oor wie ek op ‘n ander dag meer sal vertel - die eerste Lutherse kerk in geheim gebou omdat dit op daardie stadium teen die beleid van die V.O.C. was (1771).

Toe Stellenbosch fondse begin werf vir hul eie Lutherse kerkgebou (1851), het Carl Otto Hager aangebied om sy argiteksvaardighede sonder betaling aan te bied. Hy was op hierdie stadium 38 jaar oud.

Hager ontwerp Moederkerk ook

Carl sou 10 jaar later ook die vergroting van die Moederkerk ontwerp en behartig (1863). Hierdie projek sou sy bekwaamheid as argitek in die publieke oog sit, en het hom heelwat opdragwerke vir kerkgeboue verseker. Die Ou Hoofgebou, die oorspronklike Victoria College, is later ook deur hom ontwerp.

Die Lutherse gemeente het vir talle jare bymekaargekom in die kerkie in Dorpstraat, en alhoewel die gemeente te klein was om hul eie predikant te hê, het een van die Kaapstadse predikante Sondae in Stellenbosch kom preek. Ander dienste is deur 'n kerkraadslid gelei. Hager was self ‘n diaken en het die diens vir byna twee jaar lank waargeneem. Die kerkie se eerste orrel is ingewy in 1859, met begeleiding deur die koor van koster F. Hauptfleisch (Drie eeue). Hager is oorlede in 1898 en is in die begraafplaas teen Papegaaiberg begrawe.

Lutherse kerkie word deel van Sasol Museum

Meer as 100 jaar later (1969) is die kerkie, wat op daardie stadium die gevaar geloop het om verwoes te word, aangekoop deur die Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk (Mr en Mev Anton Rupert. Dit is gerestoureer, aan die Universiteit geskenk en in daardie selfde jaar (1969) formeel ingewy. Toe die ou Bloemhof-skoolgebou gerestoureer is, is beide die skool en die kerkie onder die bestuur van die Sasol-museum (nou die US Museum) geplaas.

[caption id="attachment_1212" align="aligncenter" width="477"]

matieland 1973

Uitknipsel uit die matieland 1973[/caption]

Het jy geweet: Voordat die kunsdepartement hul eie gebou gehad het is die kursus Beeldende kunste aangebied in die Ou Hoofgebou (1963). Die Departement se eerste tuiste was die ou Denne-Oord gebou op die hoek van Victoria- en Neethlingstraat (huidige ligging van die konserve), en in 1975 het dit geskuif na die ou Paul Roos gebou waar dit vandag nog is (Matieland 1984).

Die geboutjie langs die Lutherse Kerk is in 1983 as anneks aan die kunsmuseum verbind (Matieland 1984). Blykbaar was die aanvanklike motivering daarvoor om die versamelde werke van die plaaslike kunstenaar Maggie Loubser te huisves. Toe die nuwe Sasol Museum egter beskikbaar raak, is daar besluit om eerder die permanente versamelings daar te bewaar - "die Lutherse Kerk-galery kan dan vir wisselende uitstallings gebruik word." Maggie Loubser se versameling is vandag nog by die US Museum te sien.

Lutherse kerk word GUS 

Vandag is die Ou Lutherse kerk bekend as GUS (Galery van die Universiteit Stellenbosch), 'n uitstalruimte van die Universiteit se kunsdepartement sedert 2014. Die werke wat hier uitgestal word is meestal van ‘n akademiese aard en die spasie word gebruik vir nagraadse eksamens, die jaarlikse nagraadse colloquium, en ook die jaarlikse Gradex veiling.

Enigeen kan egter aansoek doen om oorweeg te word vir 'n uitstalling. Die pragtige nuwe logo en korporatiewe identiteit is ontwerp deur 'n grafiese-ontwerpstudent, Jeanne-Marie Roux, as deel van haar 4de jaar-projek. Vir meer voorbeelde van haar werk- click hier.

Besoek GUS se webtuiste vir inligting oor opkomende en huidige uitstallings, of gaan kyk na die GUS Facebook bladsy.

 

Artikel: Y Coetsee 2017
Met dank aan Francois Tredoux van die kunsdept en Karlien Breedt van die US Argief
Bronne: Matieland 1973, 1948, 1991. Stellenbosch Drie Eeue, wikipedia.org/carl otto  http://www.lutheranstellenbosch.co.za/our-story/