De Waalstraat - waar kom die naam vandaan

by 'nDromer | Local News

De Waalstraat is 'n klein doodloopstraat wat tussen die koshuise deurloop en meestal gebruik word vir parkering. Alhoewel min mense dit raaksien, het die klein straat 'n ryk geskiedenis.

 

Denneoord kollege skuif

Die skrywer, Tannie Annie Hofmeyr was 90 jaar oud toe sy 'n boek oor Van Riebeeckstraat Stellenbosch - Noordekant (1990) publiseer.

Een van die stories daarin vertel hoe die dames van die Denneoord kollege vanaf Kerkstraat na 'n erf in die dorp verhuis.

Denneoord-Opleidingskollege se studente stap elkeen met haar eie stoel onder die arm, van die ou kollege in Kerkstraat af langs Drostdystraat en om die draai by Van Riebeeckstraat. Die sypaadjie in nog nie geplavei nie en die studente moet oor die stof en oor ongelykhede loop.

Die stemming is vrolik, want die studente is bly om van die ou Bloemhofsaal afskeid te neem. Hulle het nie 'n splinternuwe gebou in die vooruitsig nie, maar wel 'n ruim, statige dorpswoning. Adriaan de Waal se woning gaan 'n heel nuwe era tegemoet.

Wie was Adriaan de Waal?

Adriaan De Waal was 'n ryk sakeman wat vroeër op Langverwacht geboer het (oppad Kuilsrivier toe) maar wat in 1902 dorp toe getrek het na 'n stuk grond in Van Riebeeckstraat. Hy het vir hom en sy vrou 'n groot villa laat bou (Rosenhof/Rosenburg), laat-Victoriaans in karakter met 'n pragtige tuin reg rondom. 

Na sy dood in 1921 het die huis  onder die beheer gekom van die Educational Trustees for the School District of Stellenbosch en so die tuiste van die nuwe Denneoord Kollege.

Huis Rosenhof

Die De Waal huis is "Rosenhof" genoem en het 'n groot tuin gehad. Die klein oefenskool (die voorloper van Laerskool Stellenbosch) is oorspronklik in die hoofslaapkamer gehou, maar het later na buite geskuif waar dit as die 'plaasskooltjie' beskryf is. Tannie Annie Hofmeyer vertel:

Daar was vyf besonder ruim vertrekke, wat as klaskamers sou dien. Ek verwys slegs na die hoofslaapkamer, waarvan ek reeds melding gemaak het. In hierdie vertrek sou die Modelplaasskool in die begin gehuisves word en hier sou die kinders van standerd 2 tot 6 hul eerste tree in die onderwyswêreld neem. Aan die hoof van hierdie skool het mej. Anna Gelderblom (nou mev. Albertyn) gestaan, en vandag nog dink haar destydse leerlinge met groot waardering aan haar.  [...]

Min sou oom Adriaan kon droom dat daar 'n tyd sou kom dat sy stalle as twee kindertuinklaskamers ingerig sou word! Dit was 'n heuglike gebeurtenis in 1938 toe die Onderwysdepartement die nuwe Modelplaasskooltjie aan die noordekant van die erf oprig! Die skooltjie moes sonder hulpmiddel soos ensiklopedieë, kindertydskrifte, ens. klaarkom. So klein as wat die kinders was, het hulle geleer om die nodige inligting te soek. 

Die De Waalwoning word gesloop

Die Kollege het in 1964 weer geskuif na die nuwe geboue op die sogenaamde Koloniesland - m.a.w waar Boland Kollege vandag is

Uiteindelik breek die dag in 1964 aan dat die studente weer 'n optog langs van Riebeeckstraat maak, en weer in 'n oostelike rigting. Die keer loop hulle egter nie ver nie. Hulle stap 'n entjie op langs Van Riebeeckstraat en dan oor die pad, en neem so die pragtige moderne geboue van Opleidingskollege Denneoord in gebruik. [...]

Die Rosenburg gebou op die foto bestaan ongelukkig nie meer nie vandag nie:

In 1969 word die ou De Waalwoning gesloop en deur die Universiteitskoshuis, Nerina, vervang. Die De Waal-erf was 'n hoekerf met De Waalstraat aan sy oostekant.

Heelwat van die huise in Van Riebeeckstraat het gestaan waar die grasperke van dameskoshuise soos Heemstede en Nerina vandag is.

Naby aan De Waalstraat is ook Claassensstraat wat die storie van die Claassens gesin vertel. Die bekende lektor G.G. Cilliers, en sy buurman Paul Roos het ook in Van Riebeeckstraat gewoon.

 

Artikel: Y Coetsee 2017
Bronne: Van Riebeeckstraat Stellenbosch (Noordekant) (1990) A Hofmeyr.
http://laerskoolstellenbosch.co.za/geskiedenis/