De Oude Leeskamer - waar kom die naam vandaan?

by 'nDromer | Local News

Het jy geweet die Oude Leeskamer in Dorpstraat 182 was letterlik 'n 'leeskamer' of 'reading room'?

Daar was ten minste drie leeskringe in die vroeë 1800s: die Reading Club wat in die Leeskamer bymekaargekom het (gestig in 1847), die Book Society (1829) en die Hollandse Leesgeselschap (1840). Vroeër was daar slegs 'n poskoetsdiens wat per geleentheid boeke vanaf die Kaap se biblioteek na Stellenbosch gebring het.

Die Huidige dorpsbiblioteek

Die dorpsbiblioteek

Die dorpsbiblioteek soos ons dit vandag ken is eers sedert 1940 in sy huidige ligging (in Pleinstraat, langs die stadsaal, naby Anna Basson se hoofkantoor). Ek het baie herinneringe aan die dorpsbiblioteek. In die dae voor die internet het ons altyd ons skooltake daar gedoen. Wie kan onthou toe die kinderbiblioteek nog op die boonste vloer was?

Daar was ‘n houttrappie by die toonbank sodat kleuters oor die toonbank kan sien en self hulle boeke kon ingee. Tannie Babelie het soms ‘n storievertelprogram gehad, en dan het ons kruisbeen op die mat gesit en met groot oë na haar geluister. Ek en my boeties was mal oor die biblioteek en die kat en die trappe wat opgaan na die kinderafdeling. Eers toe ons groter was kon ons by die 'grootmensbiblioteek' uitneem met sy cool hekkie wat 'beep’ maak wanneer jy daardeur loop.

img_1436


Leeskamer en luisterkamer

Histories het die Oude Leeskamer verskillende funksies gehad: dit is per geleentheid gebruik deur die Engelse kerk terwyl hul kerkgebou in wording was sowel as die moederkerk tydens herstelwerk.

Daarby was dit ook vir allerhande openbare doeleindes gebruik - "Recently restored, the building has over the last two centuries served as a magistrate's office, school, political meeting place, residential home, architecture's studio and originally a Reading Room - hence the name "Oude Leeskamer"" (bron sun.ac.za).

Tot onlangs is dit as gastehuis bestuur, maar sover ek weet is dit tans in privaatbesit.

 

Die dorp se eerste Uitleenbiblioteek

Behalwe vir die verskeie leeskringe in die dorp is die eerste uitleenbiblioteek rondom 1859 gestig. In hierdie jaar skryf Mr McLachlan aan die owerhede:

“We have the honour to inform you that a library and Reading Room have been established here under the conditions stipulated for obtaining a grant of $100 from the public revenue an request you to submit this application to the approval of His Excellence the Governor."

Die biblioteek het op daardie stadium 80 betalende lede gehad sowel as ‘n permanente lokaal. Die koloniale sekretaris het inderdaad die toelaag van 100 pond toegeken.

Teen 1860 het die dorp ten minste 175 boeke gehad. (Ons weet dit omdat ‘n sekere Mnr Henry Hammerschmidt ‘n pamflet gepubliseer het: “A classified catalogue of 175 works of the Stellenbosch Public Library 1860”). Sover ek weet is daar vandag nog 20 van die oorspronklik boeke in die spesiale versameling.

Die versameling skuif rond

Rondom 1870 het die voorsitter van die munisipale raad, Mnr Carl Pieter Lindenberg, aangebied om die biblioteek op die boonste verdieping van sy woning te huisves. Dit was waarskynlik Dorpstraat 103. Met sy dood in 1875 is die versameling na die nuwe bibliotekaris JG Mader geskuif, wat op daardie stadium in die huidige kerkhuis gewoon het. Hiervoor het hy 'n huur van 36 pond per jaar ontvang.

In ongeveer 1888 verhuis die biblioteek na 'n blok geboue in Birdstraat, die eiendom van Jannie Marais. Hier het die biblioteek vir 52 jaar gebly. Gedurende hierdie tyd kon die bibliotekaresse gratis in die woonstel bo-op die biblioteek bly. In 1915-16 koop die munisipaliteit die blok geboue uit die boedel van wyle mnr Marais (vir 4000 pond) en die bib word dus onder die beskerming van die Munisipaliteit geplaas.

Die stadsaal word gebou

Die stadsaalkompleks word in 1941 klaargebou, en die nuwe gratis biblioteekdiens van daar af bestuur. Sedert 1959 is daar 'n munisipale Biblioteek in idasvallei, met latere toevoegings in Cloetesville en Groendal ook.

Ten spyte van die groot impak van die internet is Stellenbosch se biblioteek nog aktief en aan die gang. Besoek bietjie hul Facebook bladsy om hul aktiwiteite dop te hou!

Ons wil graag jou stories en herinneringe van die biblioteek hoor! Skryf vir ons op facebook of op ons blog!

Artikel en fotos: Y Coetsee 2017
Historiese foto: http://oudeleeskamer.blogspot.co.za/
Historiese bronne: E Engelbrecht, Stellenbosch Drie Eeue 1979
Inligtingsbord buite die dorpsbiblioteek
www.sun.ac.za