Wie was "Oom Polla" van Oom Polla se winkel?

by 'nDromer | Local News

Enigiemand wat skoolkinders op Stellenbosch het sou al van Oom Polla se Winkel gehoor het, ‘n winkel waar jy skoolboeke, skoolklere en skryfbehoeftes kan koop.

So wie was oom Polla?

Die antwoord is eenvoudig. "Oom Polla" was die bynaam van die bekende mnr. Paul Roos (onder, tweede van links).

Baie mense ag Paul Roos as een van die top figure in opvoedkunde en sport in Suid-Afrika. Hy was die tipe persoon wat "net in die deur verskyn en al het hy nie ‘n woord gesê nie, het jy sommer geweet dis ‘n besonderse man wat daar staan."

“Daar het warmte en gulhartigheid uit hom gestraal", vertel iemand.

 

“Paul Roos” word 'n skool

Na sy loopbaan as Springbok rugbyspeler het Paul Roos as die skoolhoof (rektor) van die Stellenbosch Gimnasium begin werk (1910 tot 1940). Die seunskool op Stellenbosch was in daardie tyd die "Stellenbosch gimnasium", eers geleë in Dorpstraat en later in Victoriastraat, waar die kunsdepartement van die universiteit vandag is. Die Gimnasium was die saadjie waaruit Stellenbosch se eerste tersiêre inrigting gegroei het (die "Arts department" en later die "Victoria College").

Met die depressiejare (1930’s) het die skoolgetalle so geval dat daar oorweeg is om die hoërskole op Stellenbosch saam te smelt. Daar was egter baie teenstand, en teen die veertigerjare het dinge weer beter begin lyk.

Toe die skoolgebou in Victoriastraat te klein word (sowat vyf jaar na mnr. Roos weg is by die skool), het die skool na nuwe gronde geskuif oorkant die Eersterivier. In daardie tyd was mnr. D. Blignault die rektor. Die nuwe skool is ingewy in 1946 en gedoop "Paul Roos" ter ere van die geliefde oud-rektor. Daar het 564 leerlinge altesaam na die nuwe skoolgeboue gestap.

Interessante feite oor Mnr Paul Roos:

Hier is 'n paar dinge wat jy dalk nie van Paul Roos (die man) weet nie:



Hy was baie passievol oor moedertaalonderrig.

Tot en met 1910 is rapporte by die gimnasium nog slegs in Engels gepubliseer. Eers na sy intrede as rektor het Hollands 'n groter rol begin speel en later Afrikaans. Paul Roos het na 1913 moedertaalonderrig geleidelik bevorder tot die skool heeltemal tweetalig was.

In 'n jaarblad van 1921 skryf hy: Our school is possibly the first in the country where, with very minor exceptions, the sound educational principle of home language as medium may be followed by either section throughout the Primary and Secondary Departments, right up to Matriculation...In short, we really have an Afrikaans medium School and an English medium School under the same roof".

 

Oom Polla was nie net ‘n sportfiguur nie

Hy het ook die skool se kulturele kant bevorder. In sy tyd as skoolhoof het Paul Roos besluit om 'n paar toneelstukke op die planke te bring. Een van sy mede-onderwysers beskryf hoe betrokke en passievol hy was: “As regisseur het hy dikwels op die toneel rondbeweeg, altyd met ‘n opgerolde koerant in die hand om daarmee die een wat misdoen ‘n hou oor die skouerblaaie te gee."

Die toneelstuk Napoleon Bonaparte het so goed gedoen dat die groep versoek is om dit ook in Kaapstad op te voer.

 

Paul Roos was 'n Springbokkaptein 

'n Heel paar Springbok rugbykapteins het uit Stellenbosch (en veral PRG) gekom. Hoeveel van hulle ken jy: Theo Pienaar, P.K. Albertyn, Danie Craven, Salty du Rant, Avril Malan, Abe Malan, Dawie de Villiers, Hannes Marais en Morne du Plessis?

Trivia: Lees bietjie hier oor die dae toe voetbal en perdry nog Stellenbosch se gewildste sportsoorte was...

 

Paul Roos het nie geglo aan skoolklere nie!

Oom Polla word onthou as 'n onopgesmukte mens; “aan reëls, reglemente en amptelike omslagtigheid het hy hom nie gesteur nie. Hy wou ook niks daarvan weet om skooldrag in te voer of kinders in rye te laat staan nie. 'Ek wil g’n soldaatjies van my seuns maak nie', het hy altyd gesê."

Skooldrag (oftewel 'n univormstelsel) is eers in 1952 aanvaar.

 

Paul Roos was streng, maar ook ‘n geliefde onderwyser

Die skoolhoof het baie gesag afgedwing en respek by sy kollegas en leerlinge gekry. Iemand skryf: “met sy welige snorbaard, sy geweldige no. 20-nek en sy skouers wat soos ‘n waenhuis gelyk het, moes hy vir die kleintjies in standerds twee en drie na ‘n Olimpiese figuur gelyk het."

Tog word hy onthou as ‘n vrymoedige persoon wat geglo het kinders moet hulself kan uitleef. Op ‘n keer het die juniors blykbaar vir mnr. Roos bo-op een van die hekpilare voor die skool ‘gevange’ gehou totdat hy lag-lag ingestem het om hul vanaf twaalfuur die middag af te gee.

 

...vir nog 'n staaltjie oor Paul Roos, lees ons blog oor G.G. Cillié se huis.

 


Oom Polla se winkel bestaan al sedert 1995 met die doel om Stellenbosch en omliggende skole te voorsien van skryfbehoeftes en handboeke.

(Die winkel is geleë op die Paul Roos gronde en is oop tussen 9am en 4pm. Kyk by https://www.oompolla.co.za/ vir meer info.)

 


 

#leefstellenbosch

#annabassoneiendomme

 


‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die alledaagse dinge wat mens miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.

 


Artikel en hooffoto: Y Coetsee 2018
Bronne: H.T. van Huyssteen, Stellenbosch Drie eeue (1979).
Stellenbosch 1866 - 1966: Honderd jaar hoër onderwys (1966)