Wie was Murray van Murraystraat?

by 'nDromer | Local News

Murraystraat, 'n pragtige boomryke straat op kampus, is vernoem na John Murray. Die straat lei na die ingang van die Botaniese tuin.


  

JOHN MURRAY (1826 - 1882)

John Murray kan maklik verwar word met sy jonger broer Andrew Murray, wat die Hugenote kollege in Wellington begin het. Albei broers het as predikante 'n groot impak gemaak in Suid-Afrika.

Die broers het in Skotland en later in Utrecht studeer en daarna in Suid-Afrika kom werk. John Murray was die een wat veral in Stellenbosch sy merk gemaak het.

John Murray en Nicolaas Hofmeyer was die eerste twee professore by die teologiese kweekskool, wat rondom 1859 gestig is. Dit is hul standbeeld wat voor die teologiese kweekskool staan.

Die kweekskool is is geleë waar die destydse drostdy was.

  

Passievol oor opvoeding

Omdat die 3 predikantevriende (Hofmeyer, Neethling en Murray) so passievol was oor opvoeding, was hul almal betrokke by die stigting en ontwikkeling van Paul Roos Gimnasium en Bloemhof Meisieskool.

Op die kweekskool se geskiedenisblad:

Die stigting van [die Teologiese Kweekskool] het daartoe aanleiding gegee dat Stellenbosch die setel van menige opvoedkundige instansies geword het:

  • Rhenish skool vir meisies, 1860;
  • Stellenbosch Gimnasium, 1866 (nou bekend as Paul Roos Gimnasium);
  • Die Stellenbosch Kollege, 1880 - 1887. Dit word die Victoria Kollege, 1887 - 1918; en uiteindelik die Universiteit Stellenbosch, 1918.
  • Hoër Meisieskool Bloemhof, 1875.

 


Dagbreek: Huis John Murray

Dagbreek koshuis (geopen in 1921) is vernoem na John Murray. Naas Wilgenhof (1903) en Harmonie (1905) is Dagbreek die oudste koshuis in Stellenbosch.


 

N HOFMEYER (1827 - 1909)

Prof Hofmeyer het in Utrecht, Nederland, studeer en is (na 'n aantal jaar as predikant in Calvinia), as professor beroep om saammet sy studentevriende John Murray en Johannes Neethling betrokke te wees by teologiese opleiding in Stellenbosch.

Hofmeyer was passievol oor die jeug, en het as deel van sy bediening 'n huis gekoop in Kerkstraat en in 'n saal omskep vir bybelstudies met jongmense. Later is 'n groter saal gebou vir dieselfde doel. Vandag is dit bekend as Hofmeyersaal.


J.H. NEETHLING SNR(1826 – 1904)

JH Neethling Snr was 'n predikant by moederkerk.

Hy was getroud met die Murray-broers se suster, Maria Murray, saammet wie hy 12 kinders gehad het.

Johannes en Maria Neethling het in ‘n groot pastorie gebly waarvan die tuin vanaf Dorpstraat tot by Neethlingstraat gestrek het. Die Neethlings was blykbaar baie gasvry, want daar was ‘n “nimmereindegende stroom van besoekers, kuiergaste, sinodegangers en studente-kosgangers” by hul huis (volgens die skrywer AM Hugo).


J.H. NEETHLING JNR (1859 - 1937)

Ds Neethling se seun, ook Dr Johannes Henoch Neethling (1859 – 1937) was ‘n mediese dokter en gesondheisbeampte, maar het sy pa se passie vir skole voortgesit deur sy betrokkenheid by Paul Roos Gimnasium en Bloemhof meisieskool.

Hy het in Skotland studeer en was 28 jaar lank 'n dokter.

Dr Neethling het gereeld met sy kar en perde teen Helshoogte uitgery om doktersbesoek te lewer in die Pniël gemeenskap. JH Neethling was ook medestigter van die Stb Eksekuteurskamer en vir die laaste tien jaar van sy lewe 'n direkteur van die Stellenbossche Distriksbank.


 


 


Artikel: Y Coetsee 2017
Bronne: Stellenbosch Drie eeue (1979).
https://en.wikipedia.org/wiki/Andrew_Murray_(minister)
https://www.sun.ac.za/english/faculty/theology/Pages/About.aspx