Wie was Karin van Karindal?

by 'nDromer | Local News

Die rustige, boomryke woonbuurt, Karindal, is een van die mooiste in die dorp en geleë in die omgewing van Mostertsdrift, Uniepark en Zwaanswyk. Dit is die naaste residensiële area aan Jonkershoek.

Karindal is langs die Eersterivier en die hangbrug geleë waar inwoners dikwels met hul honde gaan stap. Twee cul-de-sac's Bergvliet en Otterkuil, merk die plek waar die buurt na die rivier uitstrek.

Die ou Lanzerac ingang

Die strate Meerlust-, Libertas-, Rheezicht-, Lanzerac- en Bosch-en-dal was eens op n tyd deel van die plaas Lanzerac. Vandag is die witgepleisterde ingangsmure van die ou plaas nog te sien in Karindal se oop parkie, die plek waar Lanzerac destyds begin het.

Die storie van Lanzerac

Lanzerac, wat vandag ‘n populêre hotel en wynproebestemming is, was oorspronklik Schoongezicht genoem, waarskynlik dansy die ‘skone uitsig’ op die Jonkershoekvallei en Stellenbosch.

Die oorspronklik eienaar, Isak Schryver, was lief vir uitbreiding en het teen die 1700's die aangrensende plase Klein Gustrouw, Leef op Hoop en Mostertsdrift besit. Na Schryver het die plaas ‘n paar keer van hande verwissels en van grootte verander.

Plase word onderverdeel

Vroeg in die 1900’s was daar redelik ekonomiese nood in die omgewing, veral as gevolg van die wingerdepidemie (filoksera) van die 1880's wat sy tol geëis het op die vallei. Baie van die oorspronklik plase is verkoop of onderverdeel.

Klein Gustrou (Leef op Hoop) is teen die einde van die 1900's in 16 dele opgebreek.

Die begin van Lanzerac wyne

Die naam Schoongezicht het in die 1920’s verander toe die plaas gekoop is deur ‘n sekere Mrs English. English was ‘n aristokratiese dame (oorspronklik van Somerset- Oos) en behalwe Lanzerac het sy ook ‘n kasteel in Kent, Engeland besit, waar sy en haar man Fred English vir sekere periodes van die jaar gewoon het. Op die nuwe plaas Lanzerac het sy reeks wyne ‘Lanzerac estate wines’ begin ontwikkel.

Haar opvolgers, die Tribelhorn familie, en later Angus Batts Buchanan (geb. 1915), het die Lanzerac wyne verder ontwikkel, en Buchanan het met sy kreatiewe wynmakersvernuf heelwat pryse gewen. 

Wie was Karin?

Mnr Buchanan, daardie tyd die eienaar van Lanzerac, het dit goedgedink om in 1954 ‘n stuk van sy grond te verkoop. Hierdie stuk grond het Karindal (Pty) Ltd geword. "Karin" was die naam van Buchanan se dogter.

Die res van die plaas Lanzerac is kort daarna omskep in ‘n luukse hotel (deur die hotelier David Rawdon) en in dieselfde jaar, 1958, is die Lanzerac kompleks as ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Die herehuis, die buitegeboue, werf, werfmure en ingang word alles beskerm vir hul historiese waarde.


Bronne: Jonkershoek timeline - Heritage Survey: Stellenbosch Rural Areas- Penny Pistorius and Stewart Harris - June 2004
Article written by Y Coetsee 2016