Kontemporêre kuns in Stellenbosch

by 'nDromer | Local News

Met die nuwe Zeitz Museum wat onlangs in Kaapstad oopgemaak het, is daar 'n hernude belangstelling in kontemporêre kuns in Suid-Afrika.

Is moderne kuns belangrik in 'n historiese dorp soos Stellenbosch?

Verseker!

Filosofiese denkers, kunstenaars en digters is dikwels die 'profete' wat keer dat 'n gemeenskap stagneer. Kuns kan die norme en en patrone in 'n samelewing verander en vernuwe, dikwels vinniger en makliker as 'policy'.

Een so voorbeeld is GUS, 'n kunsgalery in Stellenbosch, wat die afgelope jaar as 'n spasie van vernuwing, kritiese denke en transformasie ontvou het. Deur bloot 'n ruimte te skep vir die kunste (jazz, kuns, sprekers, poësie) is Stellenbosch se middedorp nou vir meer mense toeganklik. Dit word 'n plek van veilige en opregte gesprek.

Die kunswerk bo (wat deel was van Kirstin Warries se Gradexprojek) het baie Stellenbossers effens ongemaklik gemaak. Soos met baie kontemporêre kuns is dit nodig vir jong kunstenaars om die status quo te bevraagteken en 'n 'stem' te gee aan dié wat nie het nie.

 

DIE ZEITZ MOCAA:

Dit is tot 'n groot mate die rol van die MOCAA: om kuns vanuit oraloor in Afrika die internasionale platform te gee wat dit verdien.

zeitz museum
Interieur van die Zeitz museum

 

Die rede hoekom 'n Afrika museum 'n Duitse naam het, is omdat "Zeitz" die naam is van die versamelaar. As filantroop en besigheidspersoon het Jochen Zeitz al gewerk met Sir Richard Branson, was die CEO van PUMA, was op die raad van direkteurs van Harley-Davidson en was die stigter van die Zeitz Foundation for Intercultural Ecosphere Safety.

Die afgelope aantal jare het Zeitz saam met die kurator Mark Coetzee gewerk om 'n wêreldsklas kunsversameling op te bou met kuns vanuit Afrika en die Diaspora. Die visie was om uiteindelik 'n museum vir kontemporêre kuns op die Afrika Kontinent te vestig.

Daarom het ons vandag die Museum of Contemporary Art Africa (afgekort MOCAA). As jy nog nie self daar was nie, kyk na die Stellenbosch visio se in-diepte artikel of gaan loer op MOCAA se webtuiste. Woensdae tussen 10:00 - 13:00 kry almal wat op die Afrika kontinent bly gratis toegang tot die museum. Neem net jou ID of lisensie saam wanneer jy gaan!

 

WAT VAN KONTEMPORêRE KUNS OP STELLENBOSCH?

As jy Stellenbosch se eie kontemporêre kunstoneel wil verken, gaan maak 'n draai by een van hierdie kunsgalery:

  • SMAC Stellenbosch, Kerkstraat, De Wet Plein
  • Absolut art, Ryneveldstraat - boonste verdieping
  • MOK - Modern Kontemporêr, by Muratie wine estate
  • The gallery at Cavalli - by Cavalli, R44 oppad Somerset-Wes toe
  • GUS - Die galeryspasie van die Universiteit van Stellenbosch, hoek van Dorpstraat en Birdstraat
  • Ghetto art gallery - in Birdstraat, oppad Kayamandi toe

KUNS EN GESKIEDENIS 

Die GUS galery in Dorpstraat word gehuisves in 'n ou Lutherse kerkie, ontwerp deur Carl Otto Hager. Hou gerus GUS se fb bladsy dop vir Jazz events, poetry sessions en interessante sprekers.

Die P.J. Olivier kunsskool op die Braak het ook 'n interessante geskiedenis, en vorm deel van die ou Rynse sendelingskompleks.

 

#leefstellenbosch

#annabassoneiendomme

 

‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die alledaagse dinge wat mens miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.


Artikel en fotos: Y Coetsee 2017