Huldeblyk aan Anna Basson

by 'n Dromer | Local News

Vandag is Anna Basson se verjaarsdag! Wyle Anna Basson was die stigter van Anna Basson Eiendomme met haar man August aan haar sy.

Saam het hulle die besigheid op sterk en ononderhandelbare waardes gevestig wat vandag nog die deurslag voer.

"My verkoopstrategie was baie eenvoudig," vertel sy. "Dit was om net eerlik te wees. Ek het baie geleer by 'n bekende prokureur op die dorp, Piet Marais. Hy het my alles van kontrakte, sakepraktyke en veral etiek geleer. Ook om empatie met mense te hê."

In 'n brosjure van die negentigerjare beskryf sy Stellenbosch as "an Investment - A Lifestyle - A place where the people of tomorrow want to live." Die besigheid was ingestel op langtermyn verhoudings, en daarop toegespits om die belange van die Koper en Verkoper te beskerm 

Die langtermyn visie en toewyding wat die Bassons tot hul besigheid gehad het, word weerspieël in hul jarelange bestuur van die Cuthberts gebou in Pleinstraat. Die destydse skoenhandelaars W.M Cuthberts & Co. Ltd het in 1934 die planne vir 'n nuwe gebou aan die Stellenbosch munisipaliteit voorgelê. Die argitekte was dieselfde as vir hul gebou in die Middestad, FORSYTH and PARKER,

Deur die jare is die gebou deur verskeie eienaars bestuur, onder andere Oom Bennie Perl wat 'n apteek en eenvoudige oogkundige praktyk gehad het. Daar was ook die Delphi Kafee, in 1967 deur die Mendonca familie gekoop.

In daardie tyd het August Basson die gebou omskep in kantore sonder om die pragtige historiese facade van die gebou te verander.

"Onder die toesig van mnr. August Basson self, is hierdie kafeeruimte weer vernuwe. En in die boverdieping het August Basson op vindingryke wyse groot kantoorruimtes toegevoeg tot Cuthberts Buildings, vir die gebruik van Anna Basson Eiendomme.

Alhoewel die besigheid die handelsnaam "Anna Basson" aangeneem het, was die egpaar albei deel van die sterk familie- en tradisiewaardes wat die besigheid tot vandag toe het.

Soos hul deur die jare bewys het, “verkoop” die agentskap nie net ‘n struktuur van beton en stene nie, maar ‘n woning, ‘n tuiste waar families gelukkig is. Met die leuse "Leef Stellenbosch" gaan dié familiebesigheid voort onder die bestuur en eienaarskap van Anna en August se dogter, Mari Basson-Carstens.

Die besigheid het dinamies gegroei maar die waardes het gebly.