Het jy geweet - die storie van 'De Oude Bank'

by 'nDromer | Local News

'n Ou banksakkie

Tussen die ou memorabilia van my familie het ek afgekom op hierdie ou banksakkie, met groen gedruk: Stellenbossche Distriksbank Beperk.

Ek het nooit geweet dat Stellenbosch sy eie bank gehad het nie, nog minder dat my pa en oupa baie ure daar deurgebring het met banksake.

My pa sê die bank (wat destyds op die hoek van Kerkstraat en Birdstraat was) is later as kunsgalery gebruik. Vandag ken ons dit as 'n restaurant.

Ek het bietjie gaan snuffel in die geskiedenis en  'n boek gekry oor die distriksbank (wat destyds deur Bun Booyens geskryf is).

Hier is 'n paar stukkies trivia wat ek kon vind:


WANNEER IS DIE BANK GESTIG?

Die Stellenbossche Distriksbank is gestig in 1882 met 'n kapitaal van 15 000 pond (altesaam 'n duisend aandele van 15 pond elk).

 

HOE HET DIT GEKOM DAT STELLENBOSCH SY EIE BANK KRY?

In die 1700's en 1800's is meeste banksake deur die Nederlands-Oos-Indiese Maatskappy beheer. Eers toe die Kompanjie finansieël begin ondergaan (aan die einde van die 1700's), het ander banke aan die Kaap te voorskyn gekom.

Toe die Kaap onder Britse bewind kom het banke soos Standard Bank en Barclays na vore gekom.

Tussen 1836 en 1853 het bankwese op die platteland baie gegroei; daar is 31 klein banke (of distriksbanke) gestig.

Stellenbosch se eerste distriksbank was "Die Stellenbosch Bank" (gestig in 1854) maar dit het in 1877 ondergegaan. Die Cape Commercial bank is in 1882 gelikwideer. Toe die nuwe Stellenbossche Distriksbank sy verskyning maak, het nie baie mense gedink dit sal finansieël oorleef nie. Tog was dit die enigste van die distriksbanke wat bestaan het tot redelik onlangs.

 

HOEKOM HET DIE STB DISTRIKSBANK SO GOED GEDOEN?

In die eerste jaar van die bank se bestaan het dit 37% van die dorp se afset gehad, en vier jaar later 71%. Daar is verskillende teorieë oor hoekom die nuwe bank so goed gedoen het - hier is kortliks 3 teorieë:

1. Meeste Stellenbossers op daardie stadium was boere, vir wie die langer termyn krediet van die groot, gesentraliseerde Britse banke nie lewensvatbaar was nie. Hulle het eerder korttermyn, seisoenale krediet nodig gehad. Plaaslike bestuurders en direksielede was soms ook self boere en was dus meer bevoeg om die oeste en wynmark dop te hou. 2. Die distriksbank het beter koerse aangebied (5 tot 5,5%) terwyl die Standard Bank op daardie stadium 'n gemiddeld van 3,5% aangebied het. 3. Patriotisme en politiek het 'n groot rol gespeel. Die Bank het baie ondersteuning gekry van Afrikaanse besighede, veral na die Jameson inval van 1859 en die anti-imperialistiese sentimente wat daarop gevolg het.

 

WAT HET GEBEUR NA 1910 MET UNIEWORDING?

Blykbaar in die jare na uniewording het Stellenbosch se banke ooreengekom om saam te werk en dieselfde rentekoerse aan te bied sodat die speelveld gelyk kon wees.

Nietemin was die Distriksbank steeds gewild as 'plaaslike bank', wat die belange van die gemeenskap op die hart dra, eerder as dié van buitelandse aandeelhouers.

 

WAT HET TOE GEBEUR?

Bun Booyens se boek strek net tot en met die 1980's.

So ek het my oupa gevra (hy is nie 'n gebore Stellenbosser nie, maar het in die 1960's met sy gesin hiereen getrek) wat van die Distriksbank geword het.

Blykbaar het die Stellenbosch Distriksbank in die laat 1970s amalgameer met Boland Bank, en alhoewel die Distriksbank nog 'n paar jaar sy naam en identiteit behou het, is dit in 1981 finaal verander na die Distriksbank Beperk.

Baie Stellenbossers sal nog Boland Bank onthou. Sover ek verstaan het die bank later met Nedbank saamgesmelt en die tak op die hoek van Kerkstraat en Dorpstraat het toegemaak.

 

WAT IS IN DIE OUDE BANK GEBOU VANDAG?

Maatskappye soos die Distriksbank was baie invloedryk op sy tyd, maar, soos die geskiedenis getuig het die ongesonde sentiment van Afrikaans-nasionalisme meeste Afrikaanse maatskappye later onder geweldige kritiek geplaas.

Vandag is die Oude Bank 'n besige straathoek waar plaaslike en oorsese gaste bymekaarkom, 'n plek van gasvryheid en goeie kos.

Baie van die ou stigters en bestuurders van die Distriksbank word nog herdenk in ons straatname.

In Uniepark is daar byvoorbeeld Hendrik Berghlaan, Martinsonstraat en Van Coppenhagenstraat, drie bestuurders van die Stellenbossche Distriksbank.

 


As jy nog enige staaltjies het van die ou bank, skryf gerus vir ons!

.

Artikel en scans : Y Coetsee 2017
Bronne: Bun Booyens, Die Stellenbossche Distriksbank 1882 - 1982  (uitgegee 1982)
Class, Caste and Color: A Social and Economic History of the South African Western Cape, edited by Wilmot James (2017)
Banking Policy and Structure: A Comparative Analysis, By J. S. G. Wilson (2012)
The Afrikaners: Biography of a People, By Hermann Giliomee (2003)