Die storie van Drostdystraat

by 'nDromer | Local News

Die Heemkring, 'n plaaslike belangegroep vir die dorp se erfenis, bied elke twee maande 'n aanbieding aan oor Stellenbosch se geskiedenis. Ek was gisteraand daar om na die argeoloog Hennie Vos te luister oor sy opgrawings by die Stellenbosch teologiese fakulteit.

Te danke aan die wonderlike ooms en tannies was daar ook koek, tee en lekkernye na die tyd.

n Historiese foto van die Drostdy - nou die kweekskool.

Drostdystraat - gebou op 'n tuin

Die Eersterivier het destyds ‘n vertakking gehad wat voor die Drostdy verbyloop - daarom moes die inwoners oor ‘n brug loop om die voordeur te bereik. Voor die Drostdy was daar ‘n plein wat die ‘beplante plein’ genoem is.

Hierdie plein het later Drostdystraat geword.

Die eerste drostdy is in 1687 gebou, wat dit naas Kaapstad byna die oudste ontwikkelde grond in die Wes-Kaap maak. Daarby was dit ook op 'n stadium die kantoor waaruit die hele binneland regeer is.

Die gebou

Daar is ongelukkig baie min van die vroeë bouplanne beskikbaar, maar uit skilderye en ou fotos kan ons aflei dat die drostdy 'n paar keer herbou en verander is, en later die tuiste geword het van die twee teoloë, Hofmeyer en Murray, en hul gesinne. Vandag is dit die teologiese kweekskool.

Sommige van hierdie die ou fotos en dokumente word vandag uitgestal in 'n klein museumversameling op die boonste vloer van die Kweekskool. Die eerste drostdy het 3 verdiepings gehad! Teen 1707 het die rivier so woes onder die drostdy se fondamente begin inspoel dat die hele boonste verdieping ingesak het.

Sommige van die artefakte wat Vos gevind het kom uit die tyd van die landdroste (1700's), en ander uit die tyd van die seminarium (na die 1850's). Van die items wat gevind is is:

Oester- en mosselskulpe, pypstele, heelwat Sjinese porselein asook skaars Japannese porselein, 'n vishoek, 'n slot, medisynebotteltjies, naaldwerkgereedskap uit London

Dis interessant dat daar heelwat Oosterse items gevind is, iets wat mnr Vos in sy navorsing ondersoek. Baie van die slawe het uit lande soos Jakarta, Java, Bali, Timor en Maleisië gekom. Die Kaapse hawe was werklik 'n kosmopolitaanse plek - 'n samesmelting van Europese-, Oosterse- en Afrika-invloede.

Interessante items wat gevind is:

  •  Murray was lief vir skryf, en daar is heelwat inkpotjies gevind. Ook griffels waarmee die ander inwoners geskryf het (voor pen en papier het mense lei en griffel gebruik). Die area langs die ou ringmuur (aan die agterkant van die kweek), was blykbaar die weggooigate van die Hofmeyer en Murray gesinne.
  • Daar is 'n pypsteel gevind wat vermoedelik aan Ds Murray behoort het, dit het 'n inskrywing met die woord "Glasgow" en die Murray broers was gebore in Skotland.
  • Daar is baie keramiekbakkies gevind. Baie van die diensmense/servants/slawe was lief vir rys eet, omdat hul uit die ooste gekom het.

Het jy geweet?

Die landdros se vrou was gewoonlik die een wat 'n horlosie en 'n bos sleutels gedra het. Sy was die bestuurder van die huis en moes sorg dat alles gedoen word.

Artikel: Y Coetsee 2016, Foto: www.sun.ac.za
Bronne: Stellenbosch drie Eeue (1979)
Hennie Vos, aanbieding by die heemkring (Erfurthuis, 9 Nov 2016)