Die storie van Denneoord kollege

Die storie van Denneoord kollege

Met my vorige blogs het ek dikwels op die naam Denneoord afgekom en gewonder waarna dit verwys. Ek weet dat die laerskool waarin ek was, Laerskool Stellenbosch, eers ‘Denneoord’ genoem was. Wat is die storie van Denneoord en hoe pas dit in by Stellenbosch se erfenis?

Die kort antwoord is dat Denneoord die instansie is waaruit Boland Kollege ontwikkel het, tot nog so onlangs as 1990Baie onderwysers in Suid-Afrika is by die Denneoord Onderwyserskollege opgelei.

Onderwys op die settlaarsdorpie (1700s – 1800s)

Vir die eerste 200 jaar het die skoolsisteem op Stellenbosch bietjie van ‘n sukkelbestaan gevoer. Die dorp het verskeie privaatskole, openbare skole, Engelse skole en Hollandse skole probeer dra, maar daar was te min geld en hulpbronne om werklik ‘n goeie skool aan die gang te hou.

Meeste van die skooltjies het net een onderwyser en een ‘ondermeester’ (assistent-onderwyser) gehad, en kon bloot nie finansieël voortbestaan nie. ‘n Sekere onderwyser mnr Van Coppenhagen moes byvoorbeeld ‘n huishouding van 16 mense op sy klein salaris dra (sy vrou, nege kinders en nog ‘n paar ander afhanklikes).

Politiek het ook ‘n groot rol gespeel. In 1805 was die skoolorde onder Bataafse bewind, maar in 1806 weer onder Engelse bewind. Hollandse dorpskole is afgeskaf in 1828, en later kon Engelse vry regeringskole weer nie die mas opkom nie.

Het jy geweet? In die 1700’s en 1800s het onderwysers ook jaarliks ‘n rapport gekry. Op die rapport het die skoolkommissie aangeteken of die onderwyser sy werk doen, of hy gereeld skool bywoon en en of hy te veel of te min lyfstraf gee.

Uit 'n Education Gazette Aug 1905
Uit ‘n Education Gazette van Augustus 1905

Indiensopleiding van onderwysers (1800s – 1920s)

Meeste van Stellenbosch se vroeë onderwysers het oorsee studeer, maar ‘n kwekelingonderwysersstelsel het bestaan, die mees algemeen aanvaarde metode van opleiding tot en met die 1920’s.

Die kwekelingestelsel het basies beteken dat onderwysers indiensopleiding ontvang deur saammet ouer, meer ervare onderwysers by skole te werk. Dikwels was die kwekelinge bloot senior leerlinge in die skool, en moes beide op hul eie skoolwerk en op hul onderwysopleiding fokus.

Sertifikate is ingestel om die vlak van die hierdie opleiding te meet. Daar was die Elementêre Onderwysersertifikaat (ingestel in 1872) en die Middel Class Certificate (1879). In 1893 het ‘n sekere Dr Muir ‘n nuwe stel regulasies opgestel vir die skep van ‘n Derdeklas-sertifikaat. Hier was sommige van sy kriteria:

  1. Kandidate moes minstens 14 jaar oud wees (vroeër was dit 13 jr)
  2. Minstens 10 uur per week moes aan praktiese onderwys bestee word.
  3. Toelae is vasgestel op £12 (eerste jaar), £16 (tweede jaar) en £20 (derde jaar).
  4. Die kursus sou drie jaar duur.
  5. Aan die einde van elke jaar moes ‘n mondelinge en skriftelike eksamen afgelê word.

Teen 1906 was daar reeds 2209 kwekelingonderwysers in die Kaapkolonie opgelei.

img_3876
Die ou Kollege gebou gesien uit Dorpstraat 

Die stigting van ‘n kollege

Een van die dorp se eerste groot skole, Bloemhof, het in 1919 besluit om nie meer die kwekelingestelsel te gebruik nie maar hul eie opleidingsentrum vir onderwysers te skep. Die sentrum het in 1920 tot stand gekom en is die Onderwyserskollege Denne-Oord genoem.

Soos ek verstaan is die Ou Kollege in Kerkstraat 35 daarvoor gebruik. (Die kollege het later na die Rozenburg-opstal in Van Riebeeckstraat geskuif, en uiteindelik na Koloniesland, waar Boland Kollege vandag is). Hoekom die naam ‘Koloniesland’? Lees hierdie blog om uit te vind.


Die ‘oefenskool’

By Bloemhof se Denneoord onderwyskollege het die behoefte onstaan om ‘n ‘oefenskooltjie’ te skep. In 1925, deur die inisiatief van Mej Thierry, die eerste prinsipale, is ‘n groepie van 5 kleuters as die eerste oefenskool bymekaargeroep en is die Denneoord modelskool gestig. Toe die onderwyserskollege in die Rozenburg-opstal gehuisves was, is die klein skooltjie ook die Rozenburg Primêre skool genoem.

In 1936 was daar 45 kinders in die skool en twee voltydse onderwyseresse, een vir graad 1 – 3, en een vir graad 4 – 8.

Ontstaan van Laerskool Stellenbosch

Omtrent 20 jaar later het Stellenbosch ouers die behoefte uitgespreek om ‘n ordentlike laerskool in die Oostekant van die dorp te bou, een wat voorsiening sou maak vir heelwat meer leerders as by die Denneoord-skooltjie.

Die bouproses is in aan die gang gesit en in 1969 trek die Denneoord skool formeel na die nuwe gebou, waar dit vandag nog is (bron: Laerskool Stellenbosch webblad).

Het jy geweet? Die skrywer DJ Opperman se dogtertjie was op ‘n stadium ‘n leerling in die Denneoord skool, en hy het die skoollied geskryf. Die interessante ding is dat sy eerste weergawe van die skoollied ‘n speelse liedjie was soos vir kinders. Opperman moes later ‘n tweede, meer statige weergawe skryf. Hier is die teks van die eerste lied (uit: D.J. Opperman se biografie, deur J.C Kannemeyer)

Op Stellenbosch

wip-wip ons voort,

eekhorinkies van Denneoord.

Ons samel kos

langs waterstroom,

en klim-klim

teen die hoogste boom.

Die uurglas sak,

maar in U lig

doen-doen ek slegs

vandag my plig.

*”Vandag my plig” is die laerskool se leuse.

Kollege bestaan voort

Die Denneoord kollege vir Verdere Opleiding het vir menigte jare voortbestaan, en het sterk bande gevorm met met ander soortgelyke kolleges (soos die Wellington Onderwys Kollege en die Opleidingskollege Paarl). Blykbaar het hul ‘n jaarlikse kamp in Jonkershoek georganiseervasvrakompetisies gehou en soms ‘n teaterstuk by die konservatoriumsaal opgevoer.

Interessante feit: Die Universiteitskoor van Stellenbosch is in 1936 gestig deur William Morris wat ‘n destydse musiekdosent aan die Denneoord-Opleidingskollege op Stellenbosch was.

Boland Kollege word gevorm

In die 1990s het Denneoord se rektor, mnr Slabbert (wat vroeër ook ‘n rektor van Paul Roos Gimnasium was), die instansie deur ‘n oorgangsfase begelei na sy nuwe identiteit, OKB, of Onderwyskollege Boland. Mnr Slabbert het sommige van die historiese koshuis- en ander geboue op die kampus restoureer en die kwessie van afstandsonderwys heroorweeg.

Die Denneoord kursusse het tot 1991 nog geloop voordat dit uitgefasseer is, waarna die kollege ‘n nuwe beleid t.o.v. hul demografie en kultuur aangeneem het. ‘n Paar jaar later is Boland College amalgameer met 15 bestaande kolleges om 6 groot FET Colleges te vorm. Boland College bestaan nou uit vyf kampusse, naamlik Caledon, Paarl, Strand, Worcester en Stellenbosch, waarvan Stellenbosch die oudste is.

As jy enige stories of herinneringe het van Denneoord Kollege of Skool, skryf vir ons! Ons wil graag jou stories hoor!

Artikel en foto: Y Coetsee
Bronne: Stellenbosch Drie Eeue (1979)
US Argief: http://www0.sun.ac.za/diematie/archive/pre2003/argief/19990324/aktueel6.htm
 J.C. Kannemeyer, D.J. Opperman. Human & Rousseau, Kaapstad / Pretoria 1986
Honderd Jaar van Formele Onderwysersopleiding in Wellington.pdf 1997
www.laerskoolstellenbosch.co.za/geskiedenis/
 http://www.stellies.com/ons-skool

5 thoughts on “Die storie van Denneoord kollege

    1. Beste Willem! Baie dankie vir jou opmerking, ek’s bly jy deel dit met ons. Die kollegegebou was inderdaad vir daardie doel gebruik – die hoër handelskool Stellenbosch (Later Hoërskool Stellenbosch) het daaruit ontwikkel. Ek sukkel nogals om inligting oor die kollege gedurende hierdie tyd te vind, het jy dalk vir ons enige bronne daaroor?

  1. Pingback: De Waalstraat – waar kom die naam vandaan

  2. Pingback: D.J. Opperman – Winter in Stellenbosch

  3. Pingback: Die storie van die Jan Marais Park -

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui