Die storie van G.G. Cillie se huis

Die storie van G.G. Cillie se huis

Hierdie pragtige gewelhuisie wat agter Metanoia en Heemstede staan, is gebou deur ‘n bekende Stellenbosser, en sy buurman was ook ‘n legende…

Prof G. G. Cillié en mnr. Paul Roos het destyds langs mekaar gewoon in twee identiese huise in Van Riebeeckstraat. Al die erwe in the straat (vandag Heemstede se grasperk) het soortgelyke huisies gehad – groot tuine afgegrens deur die meulsloot en met ‘n uitsig op die berge. Die gewelhuisie op die foto het aan Prof Cillié behoort, maar sy buurman Paul Roos s’n lanksaan is intussen gesloop.

Daar word vertel (in die boek van Annie Hofmeyer) dat GG Cillie, terwyl hy eendag besig was om klas te gee aan ‘n groep studente, een keer in die middel van ‘n lesing onderbreek is. Die besoeker was sy vriend Paul, rektor van die Gimnasium. Paul Roos het in die middel van die dag onthou dat sy buurman verjaar, en wou hom summier gelukwens. Hy het hom na die opvoedkundegebou gehaas en met ‘n glimlag en uitgestrekte hand na die dosent gestap, hom gelukgewens en voor die hele klas breedvoerig voorspoed met die nuwe jaar toegewens, alles sonder om te blik of bloos voor die starende studente.

Prof Cillié se seun, ook G.G. Cillié (1910 – 2000) was ‘n akademikus soos sy pa en het onder meer Astronomie studeer by Oxford en Harvard! – lees meer oor hom by www.stellenboschwriters.com.

Die Universiteit van Stellenbosch het amper 100 jaar terug onstaan, in 1819. Die instansie was oorspronklik die Victoria College, ‘n iets waaroor ek in ‘n volgende blog bietjie kan vertel…

Gawie Cillié was een van die eerste studente wat die Higher Teachers’ Certificate by hierdie kollege voltooi het. Hy het as seun op ‘n plaas grootgeword, in Rhebokskloof, Wellington, maar het die plaaslewe opgegee om ‘n opvoeder te wees. Na sy Baccalareus graad by die College het hy ‘n paar jaar skoolgehou op Cradock en later in Franschhoek. Later is hy oorsee om verder te studeer – eers by die Universiteit van Edinburg in Skotland en later in Strasbourg, Duitsland.

Die fakulteit van opvoedkunde word die GG Cillié gebou genoem
Die fakulteit van opvoedkunde word die GG Cillié gebou genoem

G.G. Cillié het uiteindelik teruggekeer na Stellenbosch waar hy aangestel is as hoof van klassieke tale. Toe die Victoria kollege ‘n paar jaar later in die volwaardige Universiteit verander, was daar ‘n totaal van 558 studente en 42 dosente (Stellenbosch 3 eeue). Prof Cillié het die akademiese toespraak gelewer by die opening. By die nuwe universiteit is hy aangestel as die dekaan van opvoedkunde en later as die rektor (van 1919 tot 1925) .

Tussendeur het hy groentetuin gemaak in Van Riebeeckstraat, sy sewe kinders opgevoed, en sy vrou ondersteun met haar werk by die A.C.V.V. Annie Hofmeyer skryf dat die bruggie oor die meulsloot in gemeenskaplike besit was van Prof Cillié en Paul Roos. Ek wonder of dit hierdie een was…

img_0105

Artikel en fotos: Y Coetsee 2016
Bronne: Stellenbosch Drie eeue (1979),
Van Riebeeckstraat, Stellenbosch (noordekant), Annie Hofmeyer (1990).
.

One thought on “Die storie van G.G. Cillie se huis

  1. Pingback: Claassenstraat – waar kom die naam vandaan?

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui