Die storie van Dorpstraat

Die storie van Dorpstraat

Iemand noem Dorpstraat die ‘ruggraat’ van historiese Stellenbosch. Die geboeë pad verbreek die roosterpatroon van meeste dorpssuitlegte en vertel iets van die intimiteit en outentiekheid van Stellenbosch. Hierdie wapad na die Kaap (“de wagenweg naar de Caab”) is ‘n roete wat stelselmatig vorm aangeneem het onder die wiele van waens en koetse wat tussen die Kaap van Goeie Hoop en Van der Stel se klein nedersetting gery het.

 

Die droom van ‘n ‘fraai’ residensiële straat

Omdat Dorpstraat nie in die eerste plek residensieël of formeel uitgelê was nie, het die landdros eers heelwat later erwe in Dorpstraat ontwikkel. In Drosdystraat en Kerkstraat was eiendomme reeds in 1686 beskikbaar, maar in Dorpstraat eers teen 1710.

Toe die eerste vier strate uitgelê is (Groote Kerkstraat, Kleine Kerkstraat, Pleinstraat en Andringastraat), is daar besluit om die erwe tussen die kerk en die rivier (d.w.s. boonste deel van Dorpstraat) voorlopig uit te hou, sodat die grond gebruik kon word vir woonhuise vir die dienspligtiges in die dorp (soos die smid, predikant, sieketrooster, koster en skoolmeester). Die visie was om ‘n ‘fraai’ residensiële straat te skep met ‘n ry huisies wat teen die rivier front. Uiteindelik is besluit om die ou wapad in ‘n dorpstraat te omskep vir hierdie doel. Die huise het egter teen die straat, eerder as teen die rivier gefront.

 

Huise, plase, plotte

Op die Hertzog kaart van 1817 (geteken deur die jong landmeter Hertzog), is daar reeds heelwat huise in die ou ‘wapad’ aangedui. Hierdie huisies staan in lang, reghoekige erwe wat tot by die Eersterivier uitgemeet is en gebruik is as tuinbougrond vir tuine of wingerd (soos Huis Lucy tot nog redelik onlangs). Namate dit verder uit die dorpskern beweeg verskyn ‘n reeks plaasopstalle in Dorpstraat. Vredelust, De Hoop, Libertas Partva en Voorgelegen is voorbeelde van hierdie plaasopstalle. Dit is uit die plaas Voorgelegen wat grond destyds gegee is vir die bou van ‘n nuwe meul. Op ‘n 1710 tekening van E.V. Staden is Voorgelegen in detail geteken met ‘n dorsvloer en hooimied (tekening regs onder).

Stade

Die teenwoordigheid van plaashuise soos Vredelust (vandag ‘n kantoorkompleks langs Gino’s) in ‘n besige, kommersiële straat, dra by tot die unieke ‘plaaskarakter’ wat Stellenbosch vandag het. Daarmeesaam is die leivore, wat weerskante van die straat loop, deel van die dorp se historiese erfenis.

 

‘n Reeks historiese juwele

Behalwe vir pragtige plaasopstalle soos Voorgelegen (Dorpstraat 116) met sy vroeë Kaaps-Hollandse styl, het daar heelwat van die historiese geboue in Dorpstraat behoue gebly. Dorpstraat 100 tot 118 staan nog byna net soos dit was, sowel as die ry enkelverdiepingshuisies 137 tot 149  (nr. 137 is waar die restaurant Oppie Dorp tans is). D’Oude werf, sowel as  Coopmanshuys was aanvanklik enkelverdiepingsgeboue maar is soos baie van die huise in die straat, herbou tot dubbelverdiepings. Nrs 116 – 118 het spesiale argitektoniese belange omdat hul vensterlyse ‘tipies is van ‘n laat neëntiende-eeuse styl’.

 

Nog Dorpstraat erfenisstories

  • Een van Dorpstraat se erfenisjuwele is die ou Lutherse kerk, wat vandag GUS is. Ek het die geskiedenis van die galery nagevors vir in een van my vorige blogs – dit galery het eens die versameling van Maggie Loubser gehuisves! Kunsliefhebbers mag dalk ook die blogs geniet oor die Biblioteek se kat, ons besoek aan die Zeitz MOCAA en die PJ Olivier kunssentrum.
  • Deluxe Coffee works, of ‘Smidswinkel’ is een van die lekker maniere waarop erfenis gebruik en gevier word in Stellenbosch se kultuurlewe. Die straat se naam, Aan-de-wagenweg, demonstreer hoedat Dorpstraat as die ‘wagenweg’ bekend gestaan het.
  • Markstraat vloei uit Dorpstraat met ‘n elmboog. Dit is een van die minder bekende historiese strate in die dorp maar bevat ‘n heel paar interessante geboue, soos die Kruithuis wat eens as markgebou en later brandweerstasie gebruik is.

 

Die Stellenbosch Erfenisstigting

Kenners meen dis belangrik om sensitief te wees teenoor ‘n dorp se ‘fabric of place’ omdat dit ‘n groot effek op die dorp se ekonomie sowel as die ‘gesondheid’ van sy inwoners kan hê. Dit is iets wat die Stellenbosch Erfenisstigting baie hoog ag. Hul meen:

In looking for growth, politicians and officials often focus too much on “wow”, and neglect the fabric of place. Fabric of place endures. Cities that focus on fabric of place hold out better against economic collapse, and support growth longer. (Stellenbosch erfenisstigting).

Changes to sensitive urban environments must respect the spirit, the prevailing character, and genius loci of a place; otherwise it will lose its identity (Norberg-Schultz, 1984, in R. Donaldson).

Gaan hier na die Stellenbosch erfenisstigting se webtuiste. Vir nog ‘n paar stukkies trivia oor Stellenbosch, lees ons volgende blog hier.

#leefstellenbosch

 


‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die dinge wat jy miskyk of vanselfsprekend aanvaar Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.

Artikel: Y Coetsee 2017
Bronne: Stellenbosch Drie eeue (1979)
The Production of Quartered Spaces in Stellenbosch R.Donaldson.
Hans Fransen, ‘Ontdek Historiese Stellenbosch’, HAUM, 1979,
‘Stellenbosch, ons Oudste Dorp, Our oldest Village’, 1974
‘Stellenbosch’ Cholleen Schwager & Walter Köppe, 1992

 


 

17 thoughts on “Die storie van Dorpstraat

  1. Pingback: Alle paaie lei na Kerkstraat – die storie van die eerste vier strate

  2. Pingback: Pleinstraat – toe en nou

  3. Hallo Anna
    Sou jy moontlik weet wat die adres in Dorpstraat was waar my Ouma, Oupa en Pa gebly het in die dertiger- en veertigerjare van die vorige eeu (1930’s en 1940’s)? Hulle was Willem en Connie Basson en my vader was David Basson.

  4. Pingback: Markstraat- waar kom die naam vandaan?

  5. Pingback: Stellenbosch through the eyes of early artists

  6. Pingback: Stellenbosch – did you know? Die storie van die meulsloot

  7. Pingback: Oude Bank - the story of Stellenbosch's district bank (blog)

  8. Pingback: ...ons besoek die Zeitz MOCAA -

  9. Pingback: Stellenbosch - die storie van die saagmeule -

  10. Pingback: Het Stellenbosch al ooit afgebrand? -

  11. Pingback: Die Oude Leeskamer - waar kom die naam vandaan? -

  12. Pingback: Stellenbosch se drie rooi skoolgeboue -

  13. Pingback: Oude Libertas, Klein Libertas en Libertas Parva - wat is die verskil? -

  14. Pingback: Wie was Endler van Endlerstraat? -

  15. Pingback: Klippe, koring, koffie - die storie van die ou meul -

  16. Pingback: Stellenbosch - did you know? The story of House Lucy II -

  17. Pingback: Alle paaie lei na Kerkstraat - die storie van die eerste vier strate -

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui