Stellenbosch se eerste paaie

Stellenbosch se eerste paaie

Wat was die vroegste strate in Stellenbosch, en wat vertel hul ons oor wat belangrik was vir die mense van daardie tyd?

Dorpstraat (nie-amptelik) nr. 1

Dorpstraat, ‘de wagenweg naar de Caab’, het Kaapstad en Stellenbosch verbind en was daarom een van die eerste paaie wat ontstaan het. Dit was die hoof handelsroete vir boere wat wyn, koring en ander produkte moes verkoop.

Vir die eerste paar jaar was Stellenbosch nie veel meer as ‘n ‘kring plase rondom ‘n eilandnie. (Eiland? Jip – lees verder om uit te vind hoe en waar.)

Grondpaaie het die plase soos Coetzenburg, Welgevallen, Mostertsdrift, Voorgelegen, Libertas, Vredenburg, Kromme Rivier, Nietvoorbij en Idasvallei aan mekaar verbind.

Die hoofweë of ‘publieke Wegen’ was natuurlik ook grondpaaie. Dié het na die nabygeleë nedersettings gelei, en is op die kaart aangedui as ‘de wapad na Dorp Somerset, ‘de wapad na Dorp de Paarl‘, ‘de wapad na De Jonkershoek, ‘de wapad na De Bange hoek‘, asook na Klapmuts.

Kyk hoe breed en prominent is Dorpstraat in hierdie skets van 1710. Lees ons volledige blog oor Dorpstraat hier.

Van Stade tekening van Stellenbosch – 1710

Stellenbosch word ‘n ‘regte’ dorp

Nadat die dorpie formeel as dorp verklaar is, het die dorpsuitleg uiteraard ‘n sekere struktuur begin aanneem.

Die kerk en drostdy is twee van die eerste geboue wat opgerig is en die res het rondom hierdie 2 fokuspunte gegroei.

Die Drostdy, ook bekend as ‘het Raadshuijs’ of ‘Compagnies huijsen’, was ook die woning van die Landdros. Dié is gebou op ‘n klein eiland wat deur ‘n vertakking in die eersterivier gevorm is, min of meer waar die Teologiese fakulteit vandag is. Gaan kyk gerus na die volle storie van die Drostdy hier.

Die eerste kerkie was baie klein, ‘n eenvoudige gebou daar naby. Die voordeur het wes gefront en Adam Tas vertel dat dit ‘n mooi uitsig oor die ‘heuwels van Papegaaisberg en Vlottenburg’ gehad het. (Haha, in sy dagboek kla hy oudergewoonte oor die predikant, Dominee Beck, wat baie laat begin preek het. Toe hulle uit die kerk kom was die son amper onder.)

 


Die kerk skuif – die dorpie brei uit

Soos baie ander vroeë geboue in Stellenbosch is die kerkie deur die brand van 1710 verwoes. Geld en hulpbronne was skaars en die bou van ‘n nuwe kerkgebou moes byna ‘n dekade wag.

Vir 9 jaar het die gemeente bymekaargekom in ‘n wynkelder (lekker!) wat behoort het aan ‘n sekere Jacob Botma (die eienaar van Welgevallen). Die kelder bestaan nog en is in Ryneveldstraat.

Na die brand is die dorpie stelselmatig herstel en is heelwat nuwe strate bygevoeg. Op die bekende kaart van 1817 is die volgende strate aangedui (hier in hul oorspronklike spelling):

Dorp Straat, Kerk straat, Plein Straat, Drostdy’s Straat, Ryneveld’s Straat, Andringa’s Straat, Bird’s Straat, Molen Straat, Blom Straat, Alexander Straat. Brouwer’s Straat (Dalk Skone uitsig straat?), Herte Straat, Papegaay’s straat en De Cingel of laan.

 


Vier strate rondom ‘n kerk

 

Die vroegste strate in Stellenbosch (amptelik) is dié wat rondom die oorspronklike kerkgebou was, omkring op die kaart. Wat ons vandag Kerkstraat noem was eers ‘Kleine Kerkstraat‘ genoem, en RyneveldstraatGrootte Kerkstraat‘.

Ryneveldstraat en Andringastraat is albei vernoem na landdroste – jy kan meer lees oor hulle hier. Vir ‘n bondige geskiedenis kan jy ook hierdie wonderlike bron gaan kyk op die Stellenbosch Erfenis webtuiste.

 


Ydi is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die dinge wat mense miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy geniet dit om skryf en lees oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.

 

 

Artikel: Y Coetsee
Bron: Stellenbosch Drie Eeue 1979