Die storie van die Jan Marais Park

Die storie van die Jan Marais Park

Die Jan Marais Park is presies 101 jaar gelede geskep;

1916 was ook die jaar wat BMW begin het (Die Bayerischen Motoren Werke)

die jaar van die Battle of Delville Wood (tydens WWI)

en die jaar wat Albert Einstein sy relatiwiteitsteorie gepubliseer het

#erfenis #geskiedenis #trivia

Vir my was die JS Marais Park nog altyd ‘n lekker-maar-onseker deel van Stellenbosch. Baie Stellenbossers glo die park is nie meer veilig nie, of dat die grond beter gebruik kan word. Tog het dit lekker herinneringe. Ons het baie kinderpartytjies daar gehou as kleuters, en met die inlywing van die graad agts by die Hoërskool het ons deur die park gehardloop op ‘n Amazing Race skattejag.

Deesdae sien jy dikwels mense in die park gim of ‘bootcamp’ en daar is heelwat drawwers en atlete wat die park gebruik as oefenplek. Watter herinneringe het jy aan die Jan Marais Park?

 

SO WAT IS DIE STORIE AGTER DIE PARK?

En hoekom word daar soveel moeite gedoen om die Jan Marais park al vir meer as 100 jaar te beskerm teen ontwikkeling?

Hier is ‘n paar interessante feite:

 

Amper by die Van Der Stel-sportgronde

Toe Mnr Jannie Marais (Stellenbosch se groot filantroop) geld in sy testament nalaat vir ‘n park, was daar vir jare daarna verwarring oor presies WAAR die park moet wees.

Die ₤10,000  wat hy gelos het vir die koop, oprig en instandhouding van “een openbare Municipale Park” het na 10 jaar nog in die bank gelê en gegroei tot ₤17,000.

Op daardie tydstip het Stellenbosch 3 openbare ruimtes/terreine gehad:

  • die Braak,
  • die sportterein aan Banghoekweg (bekend as Du Toit park)
  • ‘n stuk munisipale grond aan die bopunt van Victoriastraat

Daar was vir jare lank verdeeldheid oor die ligging van die nuwe park en die gebruik van die geld.

 

Wat was die opsies?

Een van die eerste voorstelle (rondom 1917) was om die Braak te omskep in die nuwe Jan Marais park, as deel van ‘n groter parke skema. Een van die teen-argumente was dat die grond op die Braak nie vrugbaar genoeg is om plantegroei volhoubaar te maak nie (alhoewel dit later getoets is en nie so sleg bevind is nie).

‘n Tweede opsie was op die grond van die plaas Bergzicht, in die omgewing waar die Klein Libertas teater en die Van der Stel sportgronde later ontwikkel het.

Nog opsies was om dit op Coetzenburg te bou; op JD Beyers se plaas Oude Molen of op JD Krige se grond suid van Coetzenburg.

Uiteindelik is besluit (24 stemme teen 10 stemme) om die park op die oop stuk grond aan die bopunt van Victoriastraat te bou.

Alhoewel die huidige park in 1919 ingewy is, het daar steeds vir jare daarna omstredenheid geheers.

 

Watter soort park sou dit wees?

Die Jan marais Park was oorspronklik beplan as ‘n tuinpark, waarskynlik met grasperke en pergolas, amper soos die Rooi Plein.

Gelukkig het die rektor van die Victoria Kollege op daardie tyd die insig gehad om voor te stel dat dit eerder ‘n natuurpark met inheemse plante moes wees; dit is meer tydloos en sou die skenking van Jannie Marais tot sy reg laat kom.

Reeds vroeg het die park daarom ‘n verhouding met botaniste en fynbos-liefhebbers gehad. Die area was immers een van die plekke waar AV Guthrie, ‘n jong vroueprofessor by die Universiteit, haar belangrike navorsing oor Kaapse plantegroei gedoen het (lees meer oor haar hier). In 1920 het die departement van Plantkunde aansoek gedoen om ‘n botaniese tuin op te rig binne-in die park.

Alhoewel ‘n botaniese tuin nooit daar gebou is nie, is die park in die 1960s as veldblommereservaat verklaar en in latere jare as natuurreservaat (in 1980).

 

Het die park al ooit amper tot niet gegaan?

Ja!

Met die jare was daar baie voorstelle om die park in iets anders te omskep of te ontwikkel.

In 1923 het die park baie amper verdwyn. ‘n Klomp lede van die stadsraad wou die park in erwe opdeel en opveil, en het volledige kaarte en planne opgetrek om hierdie voorstel aan die res van die raad voor te lê.

Toe dit kom by ‘n stemming oor die mosie was die stadsraad presies gelykop gedeel. Dit was net die stem van die burgemeester Charlie Neethling wat die mosie geswaai het, en die opdeel van die park verhoed het.

In die 1960s wou die universiteit die Langenhoven-gedenksentrum (die Neelsie!) oprig waar die park nou is. Onderhandelinge is gedoen met die stadsraad, maar dit is nooit goedgekeur nie. Soos ons weet is die Neelsie vandag in die onderkant van Victoriastraat.

In 1987 is daar besluit om ‘n elektriese substasie te bou in die park teenaan Merrimanlaan. Die kragstasie het gelukkig nie baie van die park se grond opgeneem nie, alhoewel dit bietjie van ‘n oogseer is.

 

Watter interessante mense was betrokke?

Toe die JS Marais park uitgelê is, is ‘n sekere Mnr Simon Cupido die kontrak gegee om ontslae te raak van die groot klippe op die terrein.

‘n Sekere mnr Bloch het bome ter waarde van ₤15 aangekoop. Daar is ook drie spesifieke eikebome geplant by die opening van die tuin, opgedra aan Jannie Marais, sy vrou Elizabeth en aan Charlie Neethling, die burgemeester op daardie stadium.

Piet Roux va Mostertsdrirft is genader om die presiese plek aan te dui waar die park sou wees.

 


As jy ‘n lekker storie het oor die Jan Marais park of fotos van toeka se dae, deel dit gerus met ons! Lees hierdie lekker blog deur Craig Lotter “An Exploring South African” oor sy ervaring by die Jan Marais park.

 

#leefstellenbosch

#mystellenbosch

#annabassoneiendomme

 

Vir nog een van ons erfenisblogs, click hier.


‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die dinge wat mens maklik miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.

Artikel: Y Coetsee 2017
Bron: Nalatenskappe sonder einde, die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers. Pieter Kapp (2015) Het Jan Marais Nationale Fonds
Hooffoto: Craig Lotter

 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *