Suikerbos en fluitjiesriet, waar kom hul name vandaan?

Suikerbos en fluitjiesriet, waar kom hul name vandaan?

 

Die plantegroei in en rondom Stellenbosch is ‘n wonderlike voorbeeld van hoe kultuur en natuur mekaar ontmoet. Omdat die meeste plante vreemd was vir die Hollandse burgers het hulle volksname geskep om die verskeidenheid plante te beskryf, baie waarvan ons vandag nog gebruik.

Die varkblom, byvoorbeeld (ook bekend as die arum lelie) se wortels is uitgegrawe deur ystervarke en wilde varke en het so sy naam gekry. Tegnies is hierdie blom nie deel van die arum of lilium genus nie – die blom word wel met ‘n lelie assosieer omdat dit ‘n simbool vir skoonheid en suiwerheid is en dikwels op troues gebruik is. Die wortels wat die diere eet, is ook tegnies nie wortels nie, maar rhizome – risoom plante het ‘n horisontale ondergrondse wortelstelsel in plaas van die gewone vertikale wortel.

Behalwe die varklelie is daar ‘n hele verskeidenheid plante wat unieke Afrikaanse volksname het. Hier is paar met ‘n kort beskrywing van elk se herkoms:

  • Die blousuikerbos of baardsuikerbos is deel van die Protea familie, soos baie van die ander fynbosplante. Suikerbos het ‘n soet nektar, en die blomme word graag deur bobbejane geëet. Suikerbos is deur die boere gebruik om veekrale te maak – die bosse is naby die grond afgesny en onderstebo gestapel todat dit ‘n digte kraalmuur vorm.
  • Belladonnalelie – Hierdie lelie is deel van die amaryllis familie en ook ‘n tipe Maartblom. Beide woorde belladonna en amaryllis verwys na pragtige vroue.
velskoenblaar
Die blare van die velskoenblaar
  • Die velskoenblaar is ‘n bolplant waarvan die blomme uitkom tussen Februarie en April, daarom is dit ook een van die Maartblomme. Dit het ‘n aantal volksname (bergajuin, bloedblom, rooikwas, bobbejaansool, koning-van-Kandië, Maartblom, misryblom, misryersblom, skoensole). In die somer en soms vroeg herfs dra die lelie ‘n digte bos rooi blomme aan ‘n lang kaal stingel en spruit later twee plat oopgespreide blare uit.
  • Die Belskruid kom voor in bergmoerasse en word daarom ook die swamp daisy genoem. Dit het wit blomme wat lyk soos madeliefies, en is daarom Bellis genoem, ‘n algemene naam vir daisies in Europa.
  • Biesroei (Bobartia indica) is ‘n bedreigte plantspesie! Dit het geel blomme wat aan die punt van ‘n lang steel groei wat tot 1,5 m hoog kan wees. Dit groei in sanderige grond en soos Aristeas en Watsonia het dit ‘n rhizomestelsel of bolplantstelsel onder die grond om droeë somers te kan oorleef. Omdat die uitgedroogte plant lang dun stele het is sy ander volksname Besembiesie, Biesie, Biesiesriet en Veldbiesie.
  • Die sade van die wilde-amadel
    Die vrugte van die wilde-amadel

    Die bitter-amadel/wilde-amadel is glad nie ‘n amandel nie, maar die vruggies daarvan het die voorkoms van amadels. Dit is inderwaarheid deel van die protea familie. Die vruggies self is giftig, maar skynbaar as dit lank met water deurgewas en gerooster is, het die boere dit gebruik as ‘n plaasvervanger vir koffie.

  • wasbessiebos – Die bessies van hierdie struik is deur die hollanders gebruik om ‘n meubelwaks van te maak. Die produk was so opspraakwekkend dat hulle ‘n navraag daaroor gekry het van die Here XVII  in ‘n notule van 1778. Toe die bessiewaks al meer gewild raak, is regulasies en boetes in plek gestel om die struike te beskerm. Plukkers het blykbaar die bosse met wortel en al uitgetrek.

Lees volgende keer vir nog interessante fynbosfeite oor die name van die Fluitjiesriet en Kaalfonteinbos. (As daar ‘n ekologie- of botanie-leser is, voel asb vry om meer inligting te gee of kommentaar te lewer!)

 

——leef Stellenbosch——

 

 

 

bronne:

One thought on “Suikerbos en fluitjiesriet, waar kom hul name vandaan?

  1. “Velskoenblaar” is een van die volksname van Haemanthus coccineus wat ons hier aan die WEskus in die Sandveld kry.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *